Bloedbroers

Vervaardig deur – Deon Opperman Produksies
Na-produksie Behartig;
Redigering (7 Episodes), Aanlyn Redigering, Na-Produksie Koordinering – Johan Cronje

Met Kruispad, Hartland en Donkerland het Deon Opperman homself gevestig as die vooraanstaande skepper van epiese Afrikaanse dramareekse, en veral die uitbeelding van alledaagse mense teen die agtergrond van die verskuiwende sosio-politieke landskap van die era waarin hulle leef.  So word sy karakters keer op keer deur magte buite hulle beheer gedwing om belangrike lewenskeuses te maak, keuses wat hulle toekomspaaie en persoonlike verhoudings ingrypend raak en verander.

Bloedbroers is Opperman se nuutste epises drama, wat hom afspeel gedurende die onstuimige  tydperk van die Afrikaner se wording in die jare 1914 tot 1948.  Die verhaal volg die lewens van vier jong kêrels – Willem, PG, Gerhard en Bennie – armblanke mynwerkers, wat onwillekeurig by die Rebellie van 1914 betrokke raak.  Wanneer die Rebellie op ‘n nederlaag uitloop, vind ons vier jong helde hulself by ‘n kruispad  – gaan aan soos vantevore, of veg vir ‘n beter toekoms en vryheid.

Hulle maak die keuse om te veg, elk op sy eie manier – Bennie deur die kerk en die politiek, Willem deur radikale verset, PG deur die taalstryd en die woord, en Gerhard deur die vakbonde. Daar en dan sny hulle hulle hande, deel hulle bloed, en lê ‘n eed af om bloedbroers te wees…tot aan die einde. So volg ons hulle lewens, sien hoe elkeen verlief raak en gesin vestig, deur die chaos van die 1922 mynwerkersopstand, die Depressie van die Dertigs, die onstuimige tydperk gedurende die 2de Wêreldoorlog en die aanloop tot die befaamde verkiesing van 1948.

Maar om bloed te deel en julself bloedbroers te sweer is een ding.  Om deur al die draaie en nadraaie van die lewe nog steeds daardie eed te eer, is iets heeltemaal anders, veral as jou lewenskeuses jou uiteindelik na die teenoorgestelde kamp as die van jou bloedbroers lei.

Bloedbroers is ‘n manjefieke periode drama wat die dramatiese gebeure van ‘n amper-vergete  era van ons geskiedenis aanbied asof dit gister gebeur het.   Dit is baie lanklaas dat daar ‘n Afrikaanse drama met sulke manjefieke stel- en kostummontwerp, uitmuntende regie, en spel uit die boonste rakke deur ons land se beste akteurs en aktrises, op televisie aangebied is.